Filadelfia Ark gee om oor die vergeete mense van Suid Afrika

Vanaf die sorgsentrum geleë te Kameeldrif Wes word siekes, gestremdes en pensioenarisse ook vervoer na klinieke, hospitale en sentrums in die stad vir die nodige aandag. Geestelike berading word ook verskaf deur kundiges. Daaglikse oggenddienste verseker dat dieper geestelike waardes aangeleer word. Ons herhaal Filadelfia se leuse: “Doen aan andere wat jy graag aan jouself gedoen wil hê.” Verder is daar ook `n kleuterskool op die perseel waarin die Ark se kinders versorg word, sodat ouers hul verpligtinge kan nakom op die plaas. `n Onlangse bedryf wat tot stand gekom het, is die voorsiening van geskikte arbeid aan werkgewers in en om Hartebeespoort. Ons voorsien tans 80 persone aan werkgewers. Hierdie persone word eers goed opgelei in werkvaardighede. Daar word veral na die persoon se geestestoestand gekyk, of hy bevoeg is om die buitewêreld aan te durf al dan nie. Daar moet in gedagte gehou word dat die persone wat hier aankom, in meeste gevalle feitlik alles verloor het, en dit sluit hul waardigheid en selfrespek in. Opgeleide geestelike beraders sorg dat hierdie probleme eers aangespreek word, alvorens so `n persoon in die werkplek buite toegelaat sal word. Ons sien onsself as `n geesteshospitaal, wat gesonde mense aan werkgewers wil voorsien. Hierdie bedryf bring mee dat ons `n inkomste kan genereer vir Filadelfia Ark.

Ook veroorsaak die werk dat hierdie persone weer hul selfrespek herwin en hul tel weer hul koppe in die samelewing op. Daardie koponderstebo- houding van by die robot staan en bedel verdwyn en `n selftrots keer weer terug. `n Verdere bron van inkomste is pensioenarisse wat R800 per persoon betaal aan die Ark, wat dan vergoed vir hul behuising en 3 etes per dag, vrye medies en vervoer, gratis toiletware en gratis elektriese krag. Hierdie bogenoemde bron van inkomste versorg die elektriese kragrekening, voedselaankope, onderhoud aan voertuie en lone aan ander haweloses op die perseel. Almal in die Ark moet werk. Slegs ou en sieklike mense word vrygestel van werk. Elkeen word volgens sy behoefte in `n werksituasie geplaas, sodat die werk aangenaam kan wees vir hom. Neem kennis dat ons meestal met mense te doen kry wie se longe, niere en lewers heen is weens hul haglike lewensomstandighede op straat, maar dit word alles in ag geneem by werksplasings. Ons voorsien verder `n loon aan elke werker wat

nie pensioen kry nie, al is dit `n geringe bedrag. Opsieners kan tot R150 per week verdien. Dit is uit-en-uit sakgeld vir hulle, want alle lewensbehoeftes word immers gratis voorsien. Hierdie huidige toestand kan egter slegs gehandhaaf word, as ons ook van ander bronne inkomste verkry. Daar is `n drukkery op die perseel wat help om die uitgawes te delg. Verder word donasies per vrye keuse gemaak. Hierdie huidige saamgestelde inkomste vanaf pensioenarisse, werkers, drukkery en skenkings laat die Ark elke maand gelykbreek en ons voorsien dat ons dit sal kan volhou vir die toekoms.