Bejaardes pluk die vrugte van hul arbeid
Deur Seugnet an Zyl 20 April 2017 09:13
Johan Lesley, ’n inwoner van die Filadelfia Ark se tehuis vir bejaardes, pluk spinasie in hul groentetuin.
Johan Pieters, Cornelia Kuilder, Hannie Bezuidenhout, Mariana Kriel van Helpende Hand en Johan Lesley met groente uit die tuin.
’n Groep behoeftige bejaardes in die weste van Pretoria kan nou die opbrengs van hul harde werk geniet.
Johan Lesley, ’n inwoner van die Filadelfia Ark-tehuis in Kameeldrift, sê die eerste groente wat hulle pas in hul groentetuin kon oes, is danksy die genade van Bo. Solidariteit Helpende Hand en AfriForum het hulle vroeër vanjaar gehelp om die tuin aan te lê.
“Dis die Here wat dit laat reën en die Here wat hierdie groente laat groei,” sê Lesley.
Die groep van meer as 30 bejaardes het sedert Februarie met liefde en harde werk na die groenteplantjies omgesien.
Lesley sê dis ’n groot werk om die tuin aan die gang te hou, maar hy sien kans daarvoor.
“Ek is nou op soek na wintergewasse soos uie, knoffel, aartappels en rape.”
Hulle het nou eiervrug, spinasie, groenbone, tamaties en kool geoes.
Volgens Mariana Kriel, streekverteenwoordiger vir Helpende Hand, is daar spesifiek besluit om die bejaardes te betrek sodat hulle voel dat hulle steeds ’n plek in die samelewing het.
“Die bejaardes kan ’n verskil in hul gemeenskap maak. Ons wou nie net geld in ’n bodemlose put gooi nie, maar werklik ’n projek ondersteun waardeur ons die verskil kon sien.”
Eiervrug uit die bejaardes van die Filadelfia Ark-tehuis in die weste van Pretoria se groentetuin wat hulle pas geoes het.
Kriel sê Helpende Hand fokus daarop om projekte te begin wat bydra tot die menswaardigheid en opheffing van behoeftige mense.
“Die groentetuin is deel van die #GeeReg-veldtog en wil die bejaardes die geleentheid gee om gesonde kos aan hulself te verskaf.”
Helpende Hand se Centurion-tak hou die afgelope drie jaar al ’n vroueteeparty saam met AfriForum om geld vir ’n verdienstelike projek in te samel. Die twee organisasies het gereedskap en ’n besproeiingstelsel aangekoop om ’n tuin van 320 m² by die tehuis te begin.
Dit is egter slegs die eerste fase van die groentetuin en die plan is om die tuin aansienlik uit te brei.
Die stuk grond van sowat 2 ha sal genoeg groente kan produseer om die bejaardes van gesonde voedsel te voorsien en die oortollige groente sal by ’n padstalletjie in Van der Hoffweg voor die tehuis verkoop word om geld in te samel.
Die tehuis is deel van die Filadelfia Ark-sorgsentrum daar naby. Dié sentrum huisves meer as 400 behoeftige mense, onder wie sowat 150 kinders.
Dirk van Vuuren, stigter van die Filadelfia Ark-sorgsentrum, het dit goed gedink om die bejaardes op hul eie te laat woon.
Die tehuis is daarom in Oktober verlede jaar gestig.